Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

VL beklemtoon aanspreeklikheid en stem ooreen met die Departement van Landbou oor MoU

deel hierdie plasing

Die uitvoerende bestuur van Vrystaat Landbou (VL) het met die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling in die Vrystaat vergader en ooreengekom om 'n memorandum van verstandhouding op te stel om 'n werksverhouding te struktureer. Hier spreek William Bulwane, LUR vir Landbou en Landelike Ontwikkeling in die Vrystaat, die deelnemers toe. Foto: Vrystaat Landbou

 

9 September 2019
Verantwoordbaarheid. Dit som Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL), se boodskap aan William Bulwane, LUR vir Landbou en Landelike Ontwikkeling in die Vrystaat, en sy afvaardiging op.

Volgens Wilken is die belangrikste aspek van 'n verhouding tussen VL en Bulwane se departement om verantwoordbaar te wees. “As ons dit nie gaan regmaak nie, kan ons net sowel huis toe gaan,” het hy op 5 September 2019 tydens 'n vergadering tussen lede van die VL se uitvoerende bestuur en die departement gesê.

Beide partye het by die vergadering, wat ook deur dr Tankisi Masiteng bygewoon is, ooreengekom om 'n memorandum van verstandhouding op te stel om 'n werksverhouding tussen hulle te struktureer. Masiteng is die hoof van die departement van landbou en landelike ontwikkeling in die Vrystaat.

Wilken het daarop aangedring dat die vergadering nie net nog 'n geselswinkel is met geen tasbare resultate soos soortgelyke vergaderings voorheen nie. Tommie Esterhuyse, visepresident van VL, het ook beklemtoon dat om doeltreffend vorentoe te beweeg, is wedersydse vertroue van kardinale belang en die departement se leierskap moet deur voorbeeld lei. "Dan kan ons op die positiewe konsentreer om die sektor vorentoe te inspireer," het hy gesê terwyl hy Bulwane vir die betrokkenheid bedank het.

 

Kwessies aangespreek

Wilken het VL se standpunt oor private eienaarskap van grond beklemtoon en gesê om nie volle titels aan nuwe toetreders tot die landbou toe te ken, via gesubsidieerde bankkrediet, hou ook opkomende boere terug. Hy het die Departement van Landbou se veeartsenykundige dienste en die weermag geloof vir die voorkoming van die verspreiding van miltsiekte vanaf Lesotho na Suid-Afrika en het die nasionale Departement van Landbou gekritiseer oor die hantering van die bek-en-klouseer, wat Suid-Afrika miljarde aan uitvoerinkomste gekos het.

Sommige van die sleutelkwessies wat deur VL geopper is, sluit in landelike misdaad en veediefstal wat die volhoubaarheid van boere, groot, klein en bestaans- en plaaswerkers beïnvloed. Probleme by die Lesotho-grens, wat brandstigting, misdaad en die bedreiging van die verspreiding van aanmeldbare siektes weens onvoldoende polisiëring (mannekrag, voertuie, ondersoekvermoë en ponde) insluit, is ook uitgelig.

Die skokkende toestand van verval van landelike paaie en die sluiting van landelike lisensie- en toetsstasies was ook op die agenda, tesame met die bedreiging van gasprospektering en mynomgewingsgoedkeurings en die wanfunksionele kantore van die departement in die klein dorpies.

 

Bulwane se pleidooi aan boere

Bulwane het plaasmoorde en alle vorme van landelike misdaad veroordeel en erken dat die regering te veel in silo's werk. Hy het gesê hy sal departementele spesifieke kwessies aan relevante eweknieë en Lesotho-eweknieë oordra en voorgestel om weer oor twee maande te vergader om vordering te evalueer.

Hy het VL versoek om saam te werk om die bruto binnelandse produk van die provinsie te help verhoog en het erken dat landbou die enigste sektor is met potensiaal om die ekonomie te laat groei en meer werksgeleenthede te skep. Bulwane het 'n pleidooi aan die VL-boere gerig om hul vaardighede te deel en nuwe toetreders tot die landbou te help om op hul voete te kom en toegang tot markte te kry om volhoubare, ekonomies lewensvatbare boerdery-eenhede te hê.