Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

Wees deel van oplossings, vra Wilken by VL-kongres

deel hierdie plasing

By die Vrystaat Landbou (VL) jaarkongres in Bloemfontein is van links prof Danie Brand, Direkteur van die Sentrum vir Menseregte aan die Universiteit van die Vrystaat, Dan Kriek, President van Agri SA, Francois Wilken, President van VL, en Dr Frans Cronje, Hoof Uitvoerende Beampte van die Instituut vir Rasseverhoudinge. Foto: Frikkie Kapp

8 Augustus 2019
Raak betrokke en vat hande om die uitdagings te oorkom. Dit was die pleidooi van Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL), aan boere en die sektor by VL se jaarlikse kongres van 2019.

"As ons in die landbou nie besef dat ons moet saamstaan nie, wag 'n groot verrassing op ons," het hy gesê. "Gaan ons terugsit en hoop iemand gaan probleme namens ons aanspreek of sal ons konstruktief deel wees van moontlike oplossings?"

Wilken het 'n beroep op boere gedoen om na te dink oor hul rol in die georganiseerde landbou. Die tema van VL se kongres, wat op 7 en 8 Augustus 2019 in Bloemfontein plaasgevind het, was Wat is my rol as lid van Vrystaat Landbou?

“Hoe posisioneer ek myself om te oorleef, vorentoe te beweeg en 'n sukses te wees? Wat gaan ek doen?,” het Wilken gevra. “Die hele dag hoor ek: Wat gaan jy (VL) nou doen? Wat sê jy? Maar ek hoor min: Wat moet ons nou doen? Wat kan ons nou doen om dinge om te keer?”

Hy het boere aangemoedig om geleenthede te soek, hul gemeenskappe te help ontwikkel en druk op die regering te plaas om dienslewering te verbeter.

 

Uitdagings

Volgens Wilken is die landbou se grootste uitdagings eiendomsreg, onteiening sonder vergoeding (EWK), grondhervorming, veiligheid en die ekonomie.

Hy meen “feitlik alle grondhervormingsprojekte deur die regering het misluk” en dat boere, landboubesighede en organisasies verskeie suksesverhale behaal het, maar dit kry min aandag.

 

Gronddebat

Prof Danie Brand, Direkteur van die Sentrum vir Menseregte aan die Universiteit van die Vrystaat, en dr Frans Cronje, Hoof Uitvoerende Beampte van die Instituut vir Rasseverhoudinge, was gassprekers by die kongres. Hulle het die gronddebat en EWC toegespreek.

Brand glo die grondwet sal gewysig word. "Die vraag is eerder hoe dit gewysig sal word," het hy gesê.

Volgens hom is daar egter steeds redes waarom 'n mens kalm hieroor kan bly. Brand het gesê dit sal nog lank neem vir enige regsverandering om plaas te vind en dat 'n grondwetwysiging nie in werklikheid 'n verandering in die regsposisie van eiendomsreg sal maak nie.

Cronje vrees dat as EWC nie geklop word nie, die land gedoem is tot 'n toekoms van mislukking, armoede en chaos.

Volgens hom is dit moontlik om dit te voorkom, mits sekere stappe gevolg en strategies gewerk word. Hy het gesê dit is belangrik om jou ontleding reg te kry en ingelig te wees, om te organiseer, om lyne in die sand te trek en te weet waarvoor jy staan, om jou mandaat aktief te verdedig en om druk ordelik toe te pas.

Cronje het egter gesê niemand gaan namens boere baklei nie. “Die enigste mense wat julle hieruit sal kry, is julleself. Dit is jou organisasie en jy bepaal wat daarin gebeur. Dit is 'n spieël en 'n weerspieëling van jou.”