Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

Vrystaat Landbou sal grondwetwysiging teenstaan

deel hierdie plasing

“Eiendomsregte is onlosmaaklik deel van menseregte, en geen staat het die reg om mense daarvan te vervreem nie.” Dit is die standpunt van Vrystaat Landbou President, Francois Wilken, nadat die Grondwet Agtiende Wysigingswetsontwerp, 2021, vir openbare kommentaar gepubliseer is.

Die Grondwet Agtiende Wysigingswetsontwerp sal die staat in staat stel om enige grond en sy verbeterings vir doeleindes van grondhervorming sonder vergoeding te onteien.

Volgens Wilken sal die aanvaarding van hierdie wysiging 'n waterskeiding in die grondwetlike bestel van die land verteenwoordig. Hierdie verandering sal die beginsel vestig dat 'n burger se eiendom sonder vergoeding deur die staat onteien kan word. Dit is 'n onreg.

Argumente dat eienaars deur wette, beperkings en prosesse teen uitbuiting beskerm sal word, hou nie water nie. “Ongeag die risiko’s wat deur die korrupte en vallende staatsadministrasie daargestel word, is eiendomsreg ’n beginselsaak en nie ’n prosedurele aangeleentheid nie. Ons moet dit ten alle koste beskerm,” het Wilken gesê.

Vrystaat Landbou sal dus die grondwetwysiging tydens die openbare deelnameprosesse teëstaan en, indien nodig, alles wetlik moontlik doen om die wysiging te stop.

Vrystaat Landbou nooi ook lede van die publiek om die wysiging teë te staan. Die organisasie het 'n webportaal beskikbaar gestel waar die publiek hul teenkanting kan registreer. Die skakel na die portaal is: https://vrystaatlandbou.co.za/protect-your-property-rights/