Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

Vrystaat steier onder plaasmoorde

deel hierdie plasing

Die onlangse plaasmoord op Poenkie Bisset van Smithfield bring die aantal plaasmoorde in die Vrystaat op tien te staan. Die Vrystaat is geruk deur 53 plaasaanvalle op landbougrond, wat 9 moorde ingesluit het, gedurende 1 April tot 30 November 2020. Die Bisset-moord by Smithfield is die 10de moord op landbougrond sedert April 2020.

Volgens dr. Jane Buys, Veiligheidsrisiko-ontleder by Vrystaat Landbou (VL), was daar 34 plaasaanvalle in dieselfde tydperk verlede jaar (2019) wat 6 moorde ingesluit het. “Dit dui op ’n toename van 19 plaasaanvalle/moorde (35.9%) in die Vrystaat.” sê Buys.

Sy noem verder dat in die meerderheid aanvalle/moorde (28) kontant, selfone of vuurwapens gesteel is, terwyl in drie aanvalle voertuie ook van slagoffers gesteel is. In nege voorvalle is niks beroof nie weens die vinnige reaksie deur die slagoffers om weerstand te bied. In drie aanvalle is skape en beeste beroof en in drie ander aanvalle is gepoog om diere (veral beeste oor grense heen) te beroof.

Buys het ook daarop gewys dat die meeste van die plaasaanvalle of -moorde gedurende November (12) plaasgevind het. ’n Toename in plaasaanvalle en -moorde word dus in November 2020 bespeur en die aanloop tot die feestyd kan moontlik tot ’n verdere toename bydra.

Intussen sê Jacobus Stroebel, streekverteenwoordiger van Vrystaat Landbou, “die wrede moord op Bissett wys weereens die kwesbaarheid van boere, veral ons ouer mense.” Dit is belangrik dat boere hulself, hul gesinne en werkers bemagtig en hul kwesbaarheid so ver moontlik verminder deur altyd waaksaam te wees.” Hy herhaal dat dit uiters belangrik is dat boere deel vorm van georganiseerde veiligheidstrukture in hul gebied.

Die drie verdagtes wat in verband met Bisset se moord in hegtenis geneem is, het weer op 21 Desember in die hof verskyn.