Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

VL eis meer geteikende polisieondersoeke

deel hierdie plasing

Vrystaat Landbou (VL) eis van die Minister van Polisie sowel as die Vrystaatse Kommissaris van Polisie om plaasmoorde en aanvalle doelgerig te ondersoek, sodat die skuldiges voor die hof gebring kan word en suksesvolle vervolging kan plaasvind.

Dié reaksie van VL volg op die uitspraak van die Brendin Horner-moord waar die twee verdagtes vrygespreek is weens onvoldoende bewyse om hulle met die moord te verbind. Jakkals le Roux, voorsitter van VL se Landelike Veiligheidskomitee, sê die organisasie vereis dat die polisie 'n aktiewe en verdere ondersoek instel na wie die oortreders is om die skuldiges voor die hof te bring.

Volgens le Roux neem moorde en ernstige misdaad op die algemene publiek toe, wat druk op die strafregstelsel plaas.

Intussen het dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-ontleder by VL, bevestig dat die Vrystaat in die tydperk 1 Julie tot 30 September 2021 reeds 13 plaasaanvalle en 3 plaasmoorde gehad het wat die lewens van 7 slagoffers geëis het. Die plaasmoorde het by Harrismith en Heilbron plaasgevind. In een geval in Harrismith is 'n opkomende boer sowel as sy drie kinders vermoor. Dit wil egter voorkom asof daar nog geen arrestasies op enige van die plaasmoorde was nie.

Dr Buys noem verder dat daar gedurende die verslagtydperk vyf aanvalle op produsente was, vier op plaaswerkers, een op 'n veespekulant en twee op kleinhoewe-inwoners. Die geografiese gebiede in die Vrystaat wat die meeste deur plaasaanvalle en -moorde geraak word, is Ficksburg (2 plaasaanvalle), Bloemspruit (3 plaasaanvalle), Harrismith (5 plaasaanvalle), Steynsrus, Clocolan en Mafube met 1 elk. In die Mafube-plaasaanval is die aanvaller noodlottig gewond. Die hoë misdaadgebiede t.o.v. plaasaanvalle en -moorde is dus Harrismith met 7; Bloemspruit met 3, gevolg deur Ficksburg met 2.

“As dieselfde tydperk met dié van 2019-2020 vergelyk word, is daar ’n afname in plaasaanvalle in die Vrystaat. In die vorige boekjaar was daar 19 plaasaanvalle, terwyl daar vanjaar 13 was, 'n afname van 46.15%. ” sê Buys. Sy wys egter daarop dat daar met betrekking tot plaasmoorde ’n toename van een moord is. “In die vorige boekjaar was daar twee moorde waar ’n produsent en ’n opkomende boer vermoor is, vergeleke met hierdie boekjaar waar drie plaasmoorde reeds plaasgevind het.”

Vrystaat Landbou vereis dat die polisie ernstig moet wees met die uitrol van die hersiene Landelike Veiligheidstrategie. Waar tekortkominge, defekte en uitdagings ten opsigte van mannekrag, toerusting en voertuie reeds geïdentifiseer is, word vereis dat die nodige ingrypings geloods word sodat hoë sigbaarheid, voorkomende aksies en operasies plaasvind ten einde landelike gebiede van beter polisiëringsdienste te voorsien. VL meen dit is veral belangrik in die aanloop tot die feestyd wat groter misdaad in landelike gebiede na vore bring.