Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

VL Jongboer-finaliste glo in toekoms van landbou in SA

deel hierdie plasing

Die vyf finaliste in die Vrystaat Landbou (VL) se Jongboer van die Jaar-kompetisie glo almal daar is 'n toekoms vir die landbou in Suid-Afrika, mits jy bereid is om hard te werk en die uitdagings die hoof te bied.

Volgens prof Pieter Fourie, sameroeper van die beoordelaars en Hoof van die Departement Landbou aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT), is die finaliste sterk kandidate wat dit sal uitspook om as VL se 25ste Jongboer van die Jaar aangewys te word. Die finaliste is reeds in Februarie 2020 deur die beoordelaarspaneel op hul plase besoek. As gevolg van die Covid-pandemie was VL genoodsaak om die aanwysing van die wenner uit te stel en die jong boere sal nou op Dinsdag, 13 April om die titel meeding.

Annalea van Niekerk, 'n beesboer van Reitz, wil 'n verskil in mense se lewens maak en ook hoop gee aan ander jongmense in die landbou. Douglas Osler, ’n appelboer van Fouriesburg, glo dat “wat jy insit, sal jy uitkry”. Jimmy Roberts, ’n vee-, akkerbou- en wildboer van Hertzogville, glo “jy moet elke geleentheid raaksien en die meeste daarvan benut.” Louis de Jager, ’n veeboer van Wepener, glo die rol van jong boere in Suid-Afrika is die ontwikkeling van mense om die landbou volhoubaar te maak. Nant Yzel, ’n saaiboer van Marquard, glo die belangrikste take van jong boere is om kos te verskaf, werk te skep en welvaart op die platteland te verseker.

Volgens prof Fourie sluit van die afdelings waaroor deelnemers beoordeel word toekomsvisie, begroting en finansies, produksie, bemarking, instandhouding, personeelbestuur en gemeenskapsbetrokkenheid in.

Die wenner stap weg met 'n VL-kontantprys, asook ander pryse van verskeie borge, en sal outomaties aan die Toyota Agri SA nasionale Jongboer van die Jaar-kompetisie deelneem.

Die vorige wenner, Herman Janse van Rensburg van Arlington, moedig jong boere aan om met passie te boer. “As jy jou passie verloor, verloor jy moed. Daarom: Doen wat jy moet doen en gryp die geleenthede aan wat oor jou pad kom.”

Video's van die finaliste kan bekyk word hier