Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

Beurtkrag dreig tot 25% van SA se stapelvoedsel-oes

deel hierdie plasing

Gegewe die impak van beurtkrag op landboubedrywighede, word daar tans beraam dat tot 'n kwart van Suid-Afrika se stapelvoedseloes, mielies, op besproeiingslande verlep.

Volgens Vrystaat Landbou se Kommersiële Sakekomitee-voorsitter, Kempen Nel, is die mielie-plantseisoen tans in 'n kritieke stadium. “Die plantasies het baie water nodig, maar spilpuntbesproeiingstelsels kan nie werk nie weens die onbetroubaarheid van ESKOM. Verder staar die aartappel-, soja-, vrugte- en neutbedrywe, wat ook van besproeiing afhanklik is, groot finansiële verliese in die gesig”.

Beide die beskikbaarheid en stygende koste van ESKOM-krag en die beskerming van voedselsekerheid noop boere om hul eie oplossings te oorweeg. Dit bly egter 'n duur en onpraktiese uitdaging omdat rugsteunkragtoevoer tot 10 keer duurder is as ESKOM-krag. “Besproeiingsboere is veral van ESKOM afhanklik omdat die groot pompe en ander hoëverbruiktoerusting baie groot (en onbekostigbare) batterykapasiteit vereis”.

Vrystaat Landbou stel voor, ten einde voedselsekerheid te verseker, dat die regering die volgende in plek stel:

1. Laat Eskom toe om diesel in te voer sonder enige belasting, tantième of brandstofheffings en SEB-perke

2. Dwing NERSA om te verseker dat Eskom se gekontrakteerde kragopwekkers nie buitensporige tariewe eis nie.

3. Die instelling van 'n kragopwekkingsubsidie aan boere wat gedwing word om alternatiewe buite Eskom in te stel.

4. 'n Alternatiewe beurtkragskedule moet oorweeg word wat die spesifieke behoeftes van primêre sektore in ag neem. Boere is byvoorbeeld bereid om meer beurtkrag te hê in die maande wanneer besproeiing nie nodig is nie.

“Die effek van beurtkrag word daagliks deur elke burger gevoel. Sektore soos die landbou kon dalk in die verlede die risiko's van beurtkrag bestuur, maar dit raak onmoontlik. As boere nie kos goedkoop kan produseer nie, sal net die rykes kan eet. Dit sal die armste van ons landgenote desperaat, moedeloos en honger laat.” sê Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou.

“Privatisering van die elektrisiteitsbedryf is die ooglopende oplossing, en slegs ’n eenvoudige verandering van politieke beleid is hiervoor nodig. Hoe langer dit neem, hoe groter word die risiko vir ons land se sosiale stabiliteit.”