Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

Nog veediewe kan hul lewens verloor weens polisieafwesigheid, waarsku VL

deel hierdie plasing

“Meer veediewe kan hul lewens verloor as die staatsveiligheidsagentskappe nie hul wetlike verpligting ingevolge die Grondwet nakom nie”, waarsku mnr Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL). Wilken verwys na die voorval op 5 April 2023 by Hobhouse waarvolgens 'n vermeende veedief wat opkomende boere geteiken het so deur gemeenskapslede aangerand is dat hy later aan sy beserings beswyk het.

Mnr Friedl von Maltitz, visepresident van VL glo dat die polisie hul vermoë om veediefstal doeltreffend aan te spreek en te ondersoek, verwaarloos en grootliks verloor het. Geweldige tekorte word by die elf Veediefstaleenhede in die Vrystaat bespeur wat mannekrag en voertuie betref. Dit wil voorkom asof die Veediefstaleenheid by Ladybrand net een ondersoekbeampte het en dat die eenheid weekliks deur noodlenigingsspeurders van ander eenhede wat ook onder tekorte gebuk gaan, bedien word. Die Ladybrand-eenheid bedien meer as 10 dorpe, waarvan die meeste grensdorpe is, en die distrik ervaar byna 50% van die Vrystaat se veediefstalsake. Die situasie gaan al vir dekades so aan.

Wilken is van mening dat die polisie se gebrek aan wil en onvermoë om die nodige kapasiteit te vestig, alle boere, kommersiële, opkomende en bestaansboere met geen ander keuse laat as om saam te groepeer en reg in eie hande te neem nie. “Opkomende en bestaansboere kla al jare tydens Imbizo’s dat hulle groot verliese ly, dat sekere polisiebeamptes by veediefstal betrokke is en gedreig het dat hulle die veediewe gaan skiet.” Daar word na die QwaQwa Imbizo in 2021 verwys en veeverliese kan jaarliks op tussen R1 miljard en R3 miljard vir die landbousektor in die Vrystaat alleen geraam word. “Dit laat VL ook geen ander keuse as om ernstig ondersoek in te stel en 'n eenheid vir private ondersoekers vir veediefstal te stig nie. Boeregemeenskappe en die landbousektor as geheel word vernietig weens die gebrek aan die polisie se vermoë om doeltreffend te bekamp, ondersoek, nodige arrestasies te maak en te verseker dat sake van veediefstal suksesvol met goeie vonnisoplegging vervolg word.”

Veediefstal is nie meer net 'n eiendomsverwante misdaad nie, maar word om 2 redes ook as 'n ernstige georganiseerde geweldsmisdaad gesien. Eerstens die impak wat dit op die psige van die boerderygemeenskappe het waar verminkte slagdiere op tonele gevind word, en tweedens die feit dat die meeste veediewe met vuurwapens gewapen is om die misdaad uit te voer. Hulle huiwer nie om teen 'n boer of polisiebeampte op te tree wat hulle verhinder om hul daad uit te voer nie. Sulke voorvalle vind gereeld plaas en veral langs die grensgebiede. Dit laat boere geen ander opsie as om hulself swaar te bewapen of gewapende wagte in diens te neem nie.

Mnr Jakkals le Roux, voorsitter van VL se Landelike Veiligheidskomitee, waarsku die Minister van Polisie, die Kommissaris van Polisie en topbestuur dat gemeenskapslede toenemend reg in eie hande neem, dat frustrasievlakke onder alle soorte boerderygemeenskappe hoog is, dat so ’n neiging kan eskaleer en dat dit selfs ’n bydraende rol tot anargie in landelike gebiede kan speel as die polisie nie aktief na vore tree om veediefstal doeltreffend aan te spreek nie.