Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

SAPD se beslissende optrede teen veediefstal stuur sterk boodskappe uit

deel hierdie plasing

Vrystaat Landbou (VL) en die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) bedank graag die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in die Vrystaat. Dit volg nadat 6 mense op Saterdag, 2 Oktober 2021 in die Fouriesburg-omgewing gearresteer is. Die oortreders is op Maandag, 4 Oktober 2021 voor die hof gebring, omdat hul veeverwyderingspermitte in die vervoer van vee nie korrek voltooi is nie.

Die arrestasie het plaasgevind tydens 'n gesamentlike operasie deur Sigbare Polisiëring, die Veediefstaleenheid in Fouriesburg, die departement van binnelandse sake en die nasionale vervolgingsgesag (NVG).

Volgens Isabel Kruger van die Veediefstalvoorkomingsforum van die RPO in die Vrystaat is dit die eerste aksie van sy soort waar die SAPD direkte arrestasies op Artikel 8 van die Veediefstalwet gemaak het, wat tot skuldigbevindings in die hof gelei het. Die oortreders is beboet en sal 'n kriminele rekord ontvang.

Jakkals le Roux, voorsitter van VL se Landelike Veiligheidskomitee, bedank graag die polisie, NVG en die departement van justisie vir die spoedige wyse waarop oortreders voor die hof gebring en gevonnis is. Dit het bewys dat die Strafregstelsel baie vinnig kan reageer met arrestasies en daaropvolgende vonnisoplegging, wat verder aandui dat werklike optrede deur die polisie tot positiewe resultate lei.

Dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-ontleder by VL, is van mening dat die optrede deur die Polisie en vonnisoplegging in die hof 'n sterk boodskap sal stuur aan enige voornemende oortreders wat nie aan die Wet op Veediefstal voldoen aangaande die besit en vervoer van vee op openbare paaie.