Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

Senekal: VL soek geregtigheid vir plaasmoorde en korrupte SAPD-lede moet gaan!

deel hierdie plasing

Vrystaat Landbou (VL) verwelkom die begin van die regsproses van die vermeende moordenaars van Brendin Horner en is van mening dat borg nie toegestaan moet word nie. Volgens die organisasie se President, Francois Wilken, is dit belangrik dat die aandag nie van hierdie regsproses afgetrek word nie. "Geregtigheid vir Brendin en sy gesin bly uiters belangrik," het Wilken gesê.

Volgens Vrystaat Landbou wys die gebeure rondom Senekal dat Suid-Afrika by ’n kruispad staan. Geweldsmisdaad in die algemeen, maar spesifiek geweld teen boere en plaaswerkers, is besig om gemeenskappe te verdeel. “Gesien in die lig van die regering se voortgesette onteieningsplanne – wat ook vandeesweek momentum gekry het – sal georganiseerde landbou sterker moet na vore kom om die belange van landbou en die landelike gemeenskap te verteenwoordig,” het Wilken gesê.

Die staat het vandeesweek verskeie belangrike ondernemings aan die landbougemeenskap gemaak, wat insluit optrede teen korrupte SAPD-lede en om op die bekamping van plaasaanvalle te fokus. VL verwelkom die regering se toetrede, maar eis nou werklike resultate. Die geskiedenis wys egter dat die georganiseerde landbou nie in goeder trou kan terugsit en op die regering wag nie. Daarom sal georganiseerde landbou self inisiatief toon om toestande te verbeter.

Die emosie rondom die Senekal-betogings wys dat plaasaanvalle simbolies geword het van wat in Suid-Afrika skeefloop vir baie mense en gemeenskappe. Dit beteken dat die landbou in 'n groter debat betrokke is. Daarom sal ons ons bestaande taktiek moet heroorweeg.

“Ondersteuning vanuit ons eie geledere, maar ook vanuit die gemeenskap is belangrik vir 'n suksesvolle en volhoubare landbou-omgewing,” het Wilken gesê. Dit is die plig van die georganiseerde landbougemeenskap om hierdie ondersteuning met waardering en omsigtigheid in te span. Daarom sal boere in die toekoms proaktief moet optree om hul eie stem en die gemeenskap se stemme oor landelike veiligheid te laat hoor.

Media navrae: Francois Wilken, VL-president 083 390 1831 of vise-president, Tommie Esterhuyse 082 782 0668.