Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

3 vrae oor verpligte Covid-19-inentings

deel hierdie plasing

Met die vierde golf van die Covid-19-pandemie wat tans in Suid-Afrika woed, leef baie burgers met vrees en onsekerheid oor die toekoms. Baie het reeds geliefdes verloor, terwyl talle gesinne bekommerd is dat hul mense weens Covid-19 in die hospitaal opgeneem word.

Die tol wat die Covid-19-pandemie tot dusver in die Suid-Afrikaanse samelewing geëis het, sal waarskynlik nooit ten volle bereken word nie. Mense se lewenspatrone is in baie opsigte aangeraak en moes by ’n nuwe werklikheid aangepas word. In die lig van die onbekende gesondheidsrisiko's was sommige van die tydelike aanpassings toelaatbaar.

Namate die positiewe impak van inentings duidelik geword het, het 'n debat ontstaan of Covid-19-inentings afgedwing moet word. Dit word veral aangevoer teen die agtergrond van nuwe Covid-19-variante wat opduik. Die besluit van president Ramaphosa om sy vorige besluit te heroorweeg – dat inentings nie verpligtend sal wees nie – plaas hierdie hele debat op 'n nuwe vlak en vereis dat die burgers van Suid-Afrika standpunt inneem.

Om 'n verantwoordelike standpunt in te neem, moet drie vrae gevra word:

1) Hoe word individue se menseregte geraak deur gedwonge inentings?

2) Is die afdwinging van inentings grondwetlik?

3) Is dwang 'n aanvaarbare demokratiese modus operandi?

Vrystaat Landbou (VL) is oortuig daarvan dat individuele vryheid 'n hoeksteen van 'n vrye en voorspoedige gemeenskap en samelewing is. Inhoud word aan hierdie vryheid gegee deur beide die Handves van Regte en die Grondwet. Die reg van elke individu om besluite oor sy/haar eie liggaam te neem is hierin verskans. Dit is 'n tipe onvervreembare eiendom wat almal het. Dit beteken dat enigiemand wat besluit om die entstof te neem dit moet kan doen en sodoende die beloofde beskerming teen Covid-19 ontvang. Dit beteken ook dat die besluit van diegene wat besluit om nie ingeënt te word nie, ten spyte van die risiko's, gerespekteer word.

’n Gedwonge inentingsprogram sal individue se vryheid van keuse en reg op fisiese integriteit ondermyn en VL is dus oortuig dat gedwonge inentings nie die regte plan van aksie is nie.

Volgens Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL), sal Covid-19 nie altyd die impak hê wat dit tans het nie. “Dit sal dwaas wees om permanente en fundamentele regte prys te gee of op te skort in ’n poging om ’n tydelike risiko te bestuur. Die fokus moet eerder daarop wees om nasionale wette teen gewelddadige misdadigers en korrupte staatsamptenare af te dwing,” sê Wilken.