Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

Begroting 2023: Gee belastingverligting waar gemeenskappe self dienste lewer

deel hierdie plasing

“Vergoed gemeenskappe vir openbare dienste wat ons self moet voorsien”. Dit is die boodskap wat Vrystaat Landbou (VL) aan die Minister van Finansies, mnr Enoch Godongwana, wil oordra voor die begrotingsrede wat op 22 Februarie 2023 plaasvind.

Volgens mnr Gernie Botha, hoof uitvoerende beampte van VL, word burgers toenemend belas, maar die staatsdiens kom nie meer sy diensleweringsverantwoordelikhede na nie.

“Gevolglik word individue en gemeenskappe byna daagliks gedwing om hul eie paaie, water en sanitasie en ander dienste te bestuur om te kan oorleef. “Vrystaatse boere het byvoorbeeld reeds in 2022 talle lewensgevaarlike paaie self herstel en honderde slaggate gevul. Uit hul eie sakke.”

Volgens Botha maak dit dus net logies sin dat die regering gemeenskappe, en veral boere wat gewoonlik inspring, met opsies akkommodeer om hierdie uitgawes van belasting te kan verhaal.

Vrystaat Landbou het vroegtydig begrotingsvoorstelle by die ministerie ingedien. Kernvoorstelle sluit in:

  1. Aanvaar dat waar boere die paaie herstel, hulle die diesel en uitgawes as boerdery-uitgawes prysgee, dit word afgetrek. Indien nie, moet dit 'n belastingaftrekbare uitgawe wees.
  2. Dieselfde geld vir misdaad- en sekuriteitsuitgawes (as boere dit nie reeds by boerdery-uitgawes insluit nie) – dit moet ’n belastingaftrekbare uitgawe wees.
  3. Toestemming om al hul eie hernubare energie-installasies op te rig, aftrekking van koste as boerdery-uitgawes.
  4. Waar boere se BTW- en Inkomstebelastingopgawes geoudit word, moet terugbetalings so gou moontlik gemaak word, want dit plaas baie boere onder ernstige kontantvloeidruk as dit vir maande vertraag word.

Volgens Botha sal belastingaftrekkings vir “doen-dit-self” diensleweringsaksies daartoe bydra om die verval op die platteland te stop en heeltemal om te keer. Dit sal 'n positiewe alternatief vir alle gemeenskappe wees vir onder meer diensleweringsbetogings en druk op die verswakte staatsdiens verlig.

“Met vanjaar se begroting het minister Godongwana dus 'n geleentheid om die landelike gemeenskappe te bemagtig om die agteruitgang van die platteland self te keer”, het Botha gesê.