Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

Om self te doen is noodsaaklik vir 'n beter toekoms

deel hierdie plasing

“Ter wille van oorlewing en ter wille van ons kinders word ons gedwing om ’n ander staatsverantwoordelikheid te aanvaar.”

Dit is die mening van Friedl von Maltitz, visepresident van Vrystaat Landbou, ná “’n teleurstellende ontmoeting met die top politieke struktuur in die Vrystaat” om die paaiekrisis aan te spreek. Ná hierdie vergadering was VL “oortuig dat ons self aksie sal moet neem as die probleme met die paaie oorkom wil word.” sê von Maltitz.

Vrystaat Landbou sukkel sedert Januarie om ’n vergadering met die Vrystaatse premier te belê om die paaiekrisis in die provinsie te bespreek. Die vloede en bogemiddelde reënval wat in Januarie/Februarie regoor die provinsie voorgekom het, het die reeds verswakte paaie-infrastruktuur net vererger.

Dr Jack Armour, kommersiële bestuurder van VL, bevestig dat die organisasie na vele skriftelike versoeke en mediaberigte 'n uitnodiging van die Vrystaatse Direkteur-generaal ontvang het om die Uitvoerende Komitee op 18 Mei toe te spreek. VL se afvaardiging was teleurgesteld dat die Premier sowel as die LUR vir Finansies nie teenwoordig was nie. Die LUR in beheer van paaie het sonder verskoning laat by die vergadering aangesluit.

Ná VL se deeglike uiteensetting van die probleme met die paaie en sistemiese probleme in die paaie-afdeling, het die LUR vir Polisie, Paaie en Vervoer aangedui dat hy reeds bewus is van al die probleme op die paaie. Dr Armour bevestig dat die LUR beklemtoon het dat 281 regsgedinge teen die departement aanhangig gemaak is en die departement is nie van plan om enige skikkings in hierdie aksies aan te gaan nie.

VL het nog geen antwoorde ontvang op die volgende vrae wat sedert November 2021 pertinent aan die LUR en sy departement gerig is nie:

  1. Hoeveel werkende padskrapers is daar in die Vrystaat en hoeveel padskraperoperateurs is in diens van die departement?
  2. Wat is die skedule vir die skraap van grondpaaie in die 5 paddistrikte binne die perke van beskikbare toerusting en personeel tot die departement se beskikking, en hoekom is die begroting vir grondpaaie vir 2022/23 verminder van R120miljoen tot R50miljoen?
  3. Wat is die finale padbegrotings en aksieplan wat die grond- en teerpaaie uiteensit waarvoor begroot is wat hierdie boekjaar aandag sal geniet?
  4. Hoekom is R140mil aan salarisse bestee as daar geen “pik en graaf” werkers in diens van die departement is nie? Wat word gedoen om die topswaar burokratiese struktuur om te keer?
  5. Hoekom is R194mil aan die tesourie teruggegee vir padherstelwerk as die krisis so erg is??
  6. Wat is die staat se verwagting van 'n PPP (openbaar-privaat vennootskap) omdat boere verwag om teen markverwante pryse of belastingaftrekkings betaal te word vir werk en koste wat hulle vir die staat doen en aangaan. Die huidige manier van werk in terme van wat na verwagting gratis gedoen gaan word, is nie volhoubaar nie.

Die voorsitter van die vergadering het wel gesê dat VL se kwessies na die Ekonomiese Kluster verwys sal word vir 'n deeglike antwoord.

In die afwesigheid van 'n werklike plan van die departement, het VL 'n lys van 10 dringende teer- en 10 dringende grondpaaie aan die vergadering oorhandig wat ons verwag om dringend aandag te kry.

VL het intussen ’n veldtog van stapel gestuur om fondse in te samel om boere te help wat gedwing word om iets te doen om hul paaie toeganklik te maak sodat plaasprodukte op verbruikers se etenstafels geplaas kan word. Die skakel na die veldtog is: https://vrystaatlandbou.co.za/fix-our-roads-fix-our-future/  Enige persoon of instansie kan 'n bydrae tot Vrystaat Landbou se paaiefonds maak by: ABSA, tak 632005, Rekening 470940670 met verwysing “Paaie” + jou selnommer.