Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

Opkomende boere aan veediewe oorhandig

deel hierdie plasing

Opkomende boere in die Phuthaditjhaba-omgewing is aan veediewe 'oorhandig' en ontvang min of geen ondersteuning van die polisie nie.

Dit is die gevolgtrekking waartoe Vrystaat Landbou (VL) en die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) tydens 'n Imbizo by Phuthaditjhaba-polisiestasie in Qwaqwa op 15 Februarie 2022 gekom het.

Die Imbizo, wat hoofsaaklik oor veediefstal gehandel het, is deur die LUR vir Polisie, Paaie en Vervoer, mnr William Bulwane, en LUR Nxangisa vir Landbou bygewoon. Dr Jane Buys van VL en Nico Buys van die RPO Vrystaat was ook teenwoordig, saam met die polisie se topstruktuur op provinsiale, distriks- en stasievlak, asook tradisionele leiers en die plaaslike munisipaliteit.

Die “Anti Veediefstal Patrolleerders” wat die polisie in die area bystaan om veediefstal aan te spreek, het gekla dat hulle nie genoeg gereedskap en hulpbronne het om hul aktiwiteite uit te voer nie.

Nico Buys, voorsitter van die RPO in die Vrystaat, meld dat die opkomende boere baie ontevrede was met die dienslewering van die polisie en ook die veediefstaleenheid. Klagtes was oor swak reaksietyd, swak bywoning van misdaadtonele, min tot geen terugvoer oor sake, dat baie misdadigers vanuit Lesotho opereer en hulle nie gearresteer word nie.

Volgens dr Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder by Vrystaat Landbou, deel die kommersiële boere dieselfde frustrasies en ongelukkigheid met die opkomende en bestaansboere rakende veediefstal wat al jare lank in die Vrystaat toeneem. Die QwaQwa-gebied val onder die grensgebied en is 'n hoë misdaadgebied vir veediefstal. “Die feit dat veediefstal eskaleer en dat daar geen definitiewe strategieë en planne deur die polisie in plek is om dit doeltreffend te bekamp nie, kan moontlik daarop dui dat die polisie se betrokkenheid by die misdaad groter is as wat aanvanklik vermoed is.”

VL en die RPO kla al jare skriftelik by die Provinsiale en Nasionale Polisie oor die tekorte by Veediefstaleenhede rakende mannekrag, voertuie en toerusting. Hierbenewens is daar ook tekorte aan grenspatrollies en kapasiteit van die polisie om hul landelike veiligheidskoördineerders en stasies langs die RSA/Lesotho-grens te bemagtig, ten einde die SANW te help om veediefstal oor grense heen aan te spreek.

Volgens Nico Buys het LUR Bulwane onderneem om 2 voertuie beskikbaar te stel vir die patrolleerders om binne 'n maand met hul eweknieë in Lesotho te vergader. Nog ’n kwessie om aan te spreek is CCTV-kameras in die grensgebied om veediefstal wat reeds betaal is, maar nog nie geïnstalleer is nie, aan te spreek.

LUR Bulwane het onderneem om binne 'n maand se tyd 2 voertuie aan die patrolleerders beskikbaar te stel, om met sy eweknie in Lesotho te vergader, asook om aandag te gee aan die installering van kringtelevisiekameras wat 'n ruk gelede in die grensgebied geïnstalleer is en waarvoor reeds betaal is, ten einde veediefstal aan te spreek.

VL en die RPO hoop dat die onderneming van die LUR nie leë beloftes sal wees nie, maar dat dit 'n tasbare uitkoms vir die landbousektor in die gebied tot gevolg sal hê.