Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

Ekstra waaksaamheid benodig tydens feesseisoen

deel hierdie plasing

Die Vrystaat is in rou nadat twee boere binne 24 uur in die provinsie vermoor is.

Jakkals le Roux, voorsitter van Vrystaat Landbou se Landelike Veiligheidskomitee, het sy innige meegevoel met die naasbestaandes van Christian van Tonder (Lindley) en Johan Prinsloo (Koppies). Prinsloo se aanvaller is noodlottig deur die polisie gewond, terwyl daar glo nog geen verdagtes vir Van Tonder in hegtenis geneem is nie. “Enige moord is een te veel!” sê Le Roux.

Met die feestyd op hande, doen Le Roux 'n ernstige beroep op boere om uiters bedag te wees en seker te maak dat veiligheidsplanne in plek is. “Kriminele aktiwiteite neem ongelukkig hierdie tyd van die jaar toe en veral landbougemeenskappe moet baie bedag en oplettend wees vir enige verdagte persone of voertuie.”

Vrystaat Landbou herinner boere weereens aan die volgende aspekte om veiligheid gedurende die feestyd te verbeter:

  • Raak betrokke by die veiligheidstrukture wat geskep is tussen die plaaslike SAPD, boere en ander rolspelers in jou area. Woon gereelde maandelikse vergaderings by, raak betrokke by wit/blouligpatrollies, repetisies twee keer per jaar en kom gereeld in kontak met veiligheidskoördineerders van beide die SAPD en georganiseerde landbou in jou area;
  • Raak betrokke by plaaswagstrukture in jou omgewing en verseker dat jou verhouding met jou bure en werkers gesond is;
  • Kry radiokommunikasie, wees gekoppel aan die plaaslike radionetwerk, vermy om sonder kommunikasie te wees wanneer selfoonnetwerke af is weens byvoorbeeld beurtkrag;
  • Toets gereeld radiokommunikasie met jou veiligheidsnetwerk / koördineerder en bure;
  • Word deel van “WhatsApp”-groepe wat proaktief inligting oor verdagte voertuie/persone in jou area deurgee – veral met kameranetwerke en monitering;
  • Doen gereelde en deurlopende oefeninge op jou eie gebeurlikheidsplan, wat die hantering van vuurwapens insluit, saam met jou werkers en verskaf waar moontlik radio's na-ure;
  • Skaf 'n bykomende selfoon aan wat op 'n strategiese plek binnenshuis geplaas kan word (altyd gelaai) om hulp te kan ontbied indien jou bestaande selfoon gesteel word. Vergewis uself van sekuriteit / noodseine op u slimfoon wat ook aan 'n bestaande veiligheidsnetwerk gekoppel kan word;
  • Gee deurlopend inligting deur aan veiligheidskoördineerders van landbou/polisie wat van uiterste belang is om proaktief op te tree;
  • Kontakbesonderhede / noodnommers van bure, polisie en sekuriteitskoördineerders moet altyd byderhand wees of op selfone gelaai wees;
  • Probeer om 'n UPS te installeer veral met betrekking tot moontlike beurtkrag in jou area gedurende die komende feesseisoen;
  • Moenie bloot bykomende werkers vir 'n seisoen inbring of aanstel totdat jy vasgestel het of hulle 'n kriminele rekord het of nie;
  • Wees wakker, paraat en oplettend en rapporteer enige brokkie inligting aan die landelike veiligheidskoördineerder van die SAPD in jou area, veral met betrekking tot moontlike waarnemingspunte van misdadigers, asook die veiligheidsverteenwoordiger van die georganiseerde landboustruktuur in jou area.

Le Roux spreek sy dank uit teenoor die polisie wat, ondanks moeilike werksomstandighede, steeds daarna streef om landbougemeenskappe te ondersteun en by te staan.