Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

Toename in veediefstal langs Lesotho-grens

deel hierdie plasing

Die Vrystaatse provinsie het reeds 847 aangemelde veediefstalsake vir die tweede kwartaal van 2021/2022 gehad.

Dié syfer is volgens ’n verslag wat gesamentlik deur Vrystaat Landbou (VL) en die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) saamgestel is en volg op die vrystelling van misdaadstatistieke deur die minister van polisie, Bheki Cele.

Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-ontleder by VL, is 247 van die 847 gevalle deur 13 boerderygemeenskappe langs die RSA/Lesotho-grens aangemeld. Die aanmeldingskoers ten opsigte van veediefstal vir hierdie gebied is dus 29.16% van die Vrystaat se totale syfer. Die dorpe langs die grens wat 'n toename in veediefstal aangemeld het, is Clocolan, Fouriesburg, Hobhouse, Kestell, Ladybrand, Qwaqwa-omgewing, Tweespruit, Vanstadensrus en Zastron.

Isabel Kruger van die Veediefstalvoorkomingsforum van die RPO in die Vrystaat voeg by dat ses van dié dorpe se boerderygemeenskappe 20 of meer gevalle in die drie maande tydperk aangemeld het. “Dit dui op ’n groot toename in veediefstalaanmelding en ons is van mening dat dit daarom noodsaaklik is dat hierdie gemeenskappe as hoë misdaadgebiede geklassifiseer word.”

Dr Buys het daarop gewys dat alhoewel die vrylating van die Minister van Polisie geen getalle en geldwaardes oordra wat die verliese van boerderygemeenskappe in die Vrystaat deurgee nie, blyk dit dat meer as 1 500 beeste en meer as 5 000 skape gedurende hierdie tydperk gesteel is. Dit wil ook voorkom asof tussen 'n derde en 'n kwart van die beeste wat gesteel is teruggevind kon word. “Die Minister noem egter geensins in sy misdaadstatistieke hoeveel arrestasies deur die polisie gemaak is oor misdade en veral veediefstal nie, wat baie vrae laat ontstaan.”

Vrystaat Landbou en die RPO het verskeie aanbevelings met die polisie bespreek, soos dat verhoogde fokus op misdaadvoorkomingsoperasies saam met wit/blouligpatrollies in samewerking met boerderygemeenskappe moet plaasvind. Daar is ook aanbeveel dat veediefstalspeurders, polisiebeamptes gekoppel aan sigbare polisiëring en misdaadintelligensie saamwerk om die afsetpunte en markte vir gesteelde vee te bepaal, asook om dienste/operasies te loods en gereelde besoeke aan veilingslokale in hul area te doen.

Vrystaat Landbou en die RPO doen 'n beroep op boere om alle veediefstalvoorvalle by die polisie aan te meld vir ondersoek, asook om te verseker dat hulle aan die Wet op Veediefstal voldoen en hul vee brandmerk om eienaarskap te bewys.