Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

Wet op die Beheer van Vuurwapens – Landbou sterk gekant

deel hierdie plasing

“Selfverdediging is almal se reg en kan nie deur die staat beperk word nie.” Dit was die reaksie van Vrystaat Landbou (VL) nadat die nuwe voorgestelde wysigings aan die Wet op Vuurwapenbeheer Vrydagaand in die Staatskoerant aangekondig is. Die wysigings sluit in dat die besit van 'n vuurwapen vir selfverdediging verwyder word.

"Die blote gedagte dat die regering so 'n voorstel sal opper, in 'n land met van die hoogste moordsyfers ter wêreld, is nie net verregaande nie, maar uiters ontstellend en sal lei tot 'n toename in kriminele anargie!", sê Francois Wilken. president van Vrystaat Landbou. “Dit is absoluut in stryd met die bepalings van die gemenereg met betrekking tot die reg op selfverdediging wat voorsien word, terwyl die Handves van Regte wat in die Grondwet verskans is absoluut die reg op lewe waarborg.”

Wilken sê verder dat veral landelike gemeenskappe reeds kwesbaar is, soos onlangs uitgewys is in die toename in plaasaanvalle en -moordstatistieke, en nie kan bekostig om van wettige vuurwapens ontneem te word nie. “Die staat se onvermoë om sy burgers teen toenemende misdaad te beskerm,
die persepsie dat misdadigers meer regte het en vuurwapens mag besit wat normaalweg onwettig is, en nie meer die reg het om hulself te verdedig nie, is absurd en ongrondwetlik.”

Tommie Esterhuyse, vise-president van VL, wys daarop dat minister van polisie, mnr Bheki Cele, se onlangse misdaadstatistiekvrystelling verklaar het dat 21.1% van alle moorde toegeskryf kan word aan gewapende roof, verkragting, waaksaamheid, bendevoorvalle en/of wraak tussen die misdadiger en die slagoffer. Dat veelvuldige moorde gepleeg is in 245 voorvalle waar 526 slagoffers hul lewens verloor het omdat families nie in staat was om hulself teen gewapende misdadigers met vuurwapens te verdedig nie, laat die vraag ontstaan of die oorgrote meerderheid vuurwapens wat deur misdadigers in ernstige geweldsmisdade gebruik word onwettig is? “Die wetsgehoorsame burger se reg om hom-/haarself te beskerm en te verdedig word nou bevraagteken, wat absurd is.” sê Esterhuyse.

Vrystaat Landbou gaan binnekort 'n veldtog loods om die voorgestelde wysigings aan die Wet op Vuurwapenbeheer teë te staan.