Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

VL vergader met Vrystaatse Provinsiale regering

deel hierdie plasing

Vrystaat Landbou (VL) het op 7 September 2023 in diepte gesprekke met die lede van Vrystaatse Provinsiale regering gevoer rakende gemeenskapsveiligheid asook die provinsiale padnetwerk.

Die vergadering met verteenwoordigers van VL is deur die LUR en departementshoof van gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer bygewoon. Die LUR, me MaQueen Joyce Letsoha-Mathae, is ook tans waarnemende premier van die Vrystaat. Die distrikskommissaris van die SAPD in Mangaung, generaal-majoor Adams, en ander georganiseerde landbou-organisasies TLU, AFASA en NAFU was ook teenwoordig. Tydens die vergadering het mnr Francois Wilken, President van Vrystaat Landbou, beklemtoon dat boere en die landelike gemeenskap in wese afhanklik is van paaie en 'n veilige plattelandse gemeenskap om voedsel te produseer.

Wat landelike veiligheid betref, is veediefstal, die beskikbaarheid van polisiehulpbronne asook polisie aankoopprosedures bespreek. Tekorte aan personeel en voertuie by veediefstaleenhede is ook aan die vergadering uitgewys as wesenlike probleme vir die landbousektor. Die SAPD is tans besig om oud-polisiebeamptes met speurervaring te werf in 'n poging om die tekort aan te spreek.

Die veldbrande wat tans groot skade in die provinsie aanrig, is ook bespreek en die LUR het aangedui dat die Uitvoerende Komitee op 6 September 2023 vergader het en dat 'n provinsiale rampverklaring uitgereik sal word. Dit is veronderstel om fondse van die nasionale regering te ontsluit om boere te help.

Volgens die regeringsverteenwoordigers is daar reeds vordering gemaak met die oordrag van sommige provinsiale paaie na SANRAL, hoewel die prosesse nog nie afgehandel is nie. Landbouverteenwoordigers het beklemtoon, en die LUR het saamgestem dat korrupsie verantwoordelik is vir baie van die padinfrastruktuurprobleme. Dit gee aanleiding daartoe dat onbevoegde kontrakteurs paaie halfpad regmaak en dan verdwyn of substandaard dienste lewer.

Wilken het die LUR bedank vir haar bereidwilligheid om na die kwessies te luister, maar het pertinent aangedui dat, soos in die verlede, "ons verder moet beweeg as om net oor die probleme te praat".

“Vrystaat Landbou sal voortgaan om druk op die provinsiale regering te plaas om die talle infrastruktuur-uitdagings in die provinsie aan te spreek. As boere kan ons egter nie agteroor sit en net wag vir die staat nie. Ons moet dus aanhou om aandag te gee aan ons eie veiligheid en organisasievermoë”.