Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

Veediefstal: Vrystaat Landbou kondig private ondersoekers aan.

deel hierdie plasing

Veediefstal het in so 'n mate handuit geruk dat Vrystaat Landbou (VL) nou gedwing word om sy eie private ondersoekers-inisiatief te stig wat op veediefstal fokus.

Volgens Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, ly boere jaarliks groot finansiële verliese as gevolg van georganiseerde veediefstal. “In die Vrystaat is die polisie se vermoëns en kapasiteit om veediefstal te bekamp baie beperk, veral met betrekking tot die ondersoek van veediefstalsake, die maak van arrestasies en die suksesvolle neem van sake deur die howe. ’n Tekort aan mannekrag, voertuie en toerusting by Veediefstaleenhede van die SAPD is ’n groot bron van kommer”.

Dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-ontleder van VL, sê die private ondersoekers is 'n inisiatief wat in samewerking tussen VL se Landelike Veiligheidskomitee en die private sekuriteitsmaatskappy LGV sal plaasvind. “Die eerste fase van hierdie projek is vanaf 1 Julie 2023 in die Fezile Dabe (FD)-distrik van stapel gestuur waar ons PSIRA-geregistreerde private ondersoekers aktief is en alle ondersoeke sal plaasvind in samewerking met die polisie onder die vaandel van die Landelike Veiligheidstrategie”.

Die hoë misdaadgebiede wat groot veediefstalle in die Fezile Dabe-distrik ervaar, sal elk 'n private ondersoeker hê en het reeds 'n kursus deurloop waarin hulle onder meer ook 'n uitgebreide handleiding oor alle relevante wetgewing ontvang het. Die dorpe wat deur private ondersoekers bedien sal word, is tans:

  • Heilbron
  • Mafube
  • Kroonstad / Steynsrus
  • Cornelia / Villiers
  • Parys / Sasolburg area

Buys noem dat die private ondersoeker boere behulpsaam sal wees met onder meer:

• Bewaring van die misdaadtoneel;

• Neem van 'n A1-stelling. Die boer moet egter steeds die saak by die plaaslike polisiestasie aanmeld;

• Kontak/samewerking met die Veediefstalspeurder in die area;

• Om alle bewyse aan die Veediefstalspeurder te oorhandig;

• Begin 'n soektog om die gesteelde vee op te spoor.

Peet Swanepoel van Parys sal as provinsiale koördineerder vir die PSIRA private ondersoekers optree. Hy is ’n gesoute veediefstalondersoeker wat al dekades lank by sulke ondersoeke betrokke is en ook veediefstalspeurders opgelei het. Hy sal die private ondersoeker uitstuur wat die naaste aan die klagte gebaseer is.

Die diens sal gratis beskikbaar wees vir volbetaalde FSA-lede. Ander boere sal ook bedien kan word as hulle 'n voorafbepaalde bedrag in VL se Veiligheidsfonds inbetaal.

Buys sê die projek sal kwartaalliks geëvalueer word vir uitrol na ander distrikte se hoë misdaadgebiede in verband met veediefstal, in samewerking met die polisie. Sy versoek boere om toe te sien dat hul vee, veral jonger vee, gebrandmerk en of getatoeëer word om die opsporing van die vee te vergemaklik asook om eienaarskap te bewys.