Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

Eiendomsreg: Pres. Ramaphosa se teenstrydige boodskappe

deel hierdie plasing

Die teenstrydige boodskappe van regeringsamptenare, insluitend die president, oor voogdyskap en nasionalisering van grond wek kommer. Dit was die reaksie van Vrystaat Landbou nadat berig is dat ANC- en EFF-lede van die Ad Hoc-komitee vir die wysiging van artikel 25 van die Grondwet staatsbewaring van alle grond voorstaan.

In reaksie hierop het president Ramaphosa die konsep van staatsvoogdyskap oor grond verwerp en gesê die ANC se beleid is om grondbesit te bevorder. In dieselfde asem het die President sy steun vir die Ad Hoc-komitee se mandaat herhaal – wat daarop fokus om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

Volgens Vrystaat Landbou se president, Francois Wilken, was die president se boodskap vir sommige effens bemoedigend maar strook nie met die inhoud van byvoorbeeld die nuwe Onteieningswet nie. “Dit is goed dat pres. Ramaphosa stuur ’n baie duidelike en sterk boodskap van private grondbesit uit, maar dit moet ons nie verblind vir die realiteit van wetgewing wat die regering sal bemagtig om private eienaarskap te ondermyn nie.” sê Wilken.

Vrystaat Landbou wil graag sien dat pres. Ramaphosa wat aksie by sy woorde oor private eiendomsreg voeg deur daardie artikels wat eiendomsreg ondermyn uit nuwe onteieningswetgewing te verwyder.

Die verskil tussen wat pres. Ramaphosa en die komiteelede het gesê, kom daarop neer dat die Ad Hoc-komitee alle burgers se eiendomsreg wil vervreem terwyl die president regeringsmag voorstaan wat spesifieke individue of groepe kan teiken.

Vrystaat Landbou hou by sy standpunt dat verbreding van deelname in die landbousektor slegs deur markgerigte beleid en markgedrewe projekte kan plaasvind. “Ons lede is nie sekondêre burgers nie en ons sal voortgaan om te veg vir ’n regverdige orde waar eiendomsreg van alle burgers beskerm word.” sê Wilken.

VL sal sy lede bemagtig om die Vrystaatse been en finale rondte van die openbare verhore oor die Onteieningswetsontwerp by te woon (indien dit plaasvind) en om beswaar te maak teen enige verwysing na onteiening sonder vergoeding.