Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

Weerstand teen korrupsie, swak dienslewering en onteiening nodig

deel hierdie plasing

“Weerstaan korrupsie, swak dienslewering en dreigende onteiening van bates deur beheer oor jou onmiddellike omgewing en omstandighede te neem”. Dit was die boodskap van Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, aan boere tydens die organisasie se virtuele kongres in Bloemfontein.

Die Kwazulu-Natalse onluste, verbrokkelende infrastruktuur, onveilige omgewings en verslegtende sosio-ekonomiese toestande dui daarop dat die situasie in Suid-Afrika besig is om te versleg. “Boere moet besef dat hierdie probleme nie meer deur die staat opgelos kan word nie. Die regering is lomp en ongeorganiseerd en stel duidelik meer belang in wat hulle vir hulself kan toeëien”, meen Wilken.

Wilken het beklemtoon dat die landbougemeenskap die geleenthede in die huidige omgewing moet raaksien. “Die onttrekking van die staat bied gemeenskappe die geleentheid om praktiese beheer oor hul omgewings te neem.”

Oor die ekonomiese omstandighede het Wilken verklaar dat Suid-Afrika anders oor die ekonomie sal moet dink. Hy meen daar is eenvoudig nie meer ruimte vir rasgedrewe sosiale eksperimente soos SEB, regstellende aksie en grondonteiening nie. “Hierdie beleid lei net tot korrupsie, werkverliese en ondermyn maatskaplike samehorigheid. Die land se ekonomie word gyselaar gehou deur die herverdelingsbeheptheid en dit is die werkloses wat die prys daarvoor betaal.”

Wilken het beklemtoon dat die tyd aangebreek het dat die publiek opstaan, hande skud en opbou. “Moenie wag dat iemand anders dinge verander nie. Dit is tyd dat ons (landbou) opstaan en nie meer deur ideologieë en populistiese uitsprake rondgeskop en bedreig word nie.”